Hierdie koekies gebruik gemaalde lynsaad (flax seed) in plaas van meel. Afhangende van hoe fyn jou lynsaad gemaal is, mag jy dalk bietjie meer of bietjie minder gebruik om die deeg te bind. Die deeg moet styf genoeg wees sodat dit vorm behou wanneer dit in die warm olie gedrup word. Die lynsaad se neuterige smaak gaan baie goed saam met broccoli.
225 g broccoli
1 eier
30 g gemaalde lynsaad/lynsaad meel
30 g parmessaan, gerasper
1 knoffelhuisie, fyngemaak
sout en peper na smaak
olie om in te braai
Stoom die broccoli tot gaar en sag, maar nie pap nie. Dreineer en plaas in 'n mengbak. Druk die broccoli fyn met 'n aartappeldrukker. Klits die eier en meng die meel daarby in. Voeg die parmesaan en knoffel by en geur na smaak. Verhit die olie in 'n groot braaipan. Skep groot eetlepelsvol van die deeg in die warm olie en braai 3 minute aan een kant tot goudbruin, draai om en braai 3 minute aan die ander kant. Bedien warm.
9 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 0.4g