LowCarbers MAG kaaskoek eet - en met hierdie missie het ek al vele kaaskoeke en vele variasies op die tema uitprobeer. Hierdie is een van die lekkerste kaaskoeke wat ek nog probeer het! Jy sal die suikervrye sjokolade kitspoeding by die diabetiese kosse in enige groot supermark of apteek kry. (Ek hou van lekker donker sjokolade - ek het al met sukses 'n bietjie ekstra kakao ook by die mengsel ingeklits, maar dit hang af van hoe sjokoladerig die kitspoeding is.)
450 g room kaas, saggemaak
60 ml xylitol, of na smaak
5 ml vanilla geursel
2 eiers
125 ml room
1 pakkie suikervrye sjokolade kitspoeding
Maak die room kaas sag deur dit met ‘n elektriese klitser te klits en meng dan die xylitol, vanilla en eiers in. Klits die room en kitspoeding in ‘n aparte bakkie saam. Meng die poedingmengsel by die roomkaas in en klits op hoë spoed tot goed gemeng. Spuit ‘n oondvaste tertbord met kleefwerende middel en skep die mengsel daarin uit. Bak teen 180°C vir 35-40 minte. Laat in die oond afkoel.
12 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 6.8g