Hierdie resep is regtig goedkoop - dit gebruik stowevleis, en maalvleis om die resep te rek. En dit is heerlik vir die koue wintersaande. Bedien dit op Kamma Rys of Kamma Spaghetti. Die gereg vries goed.
15 ml olie
500 g bees stowevleis
500 g bees maalvleis
200 g uie, fyn gekap
100 g rooi soetrissie, fyn gekap
3 knoffelhuisies, fyngemaak
30 ml tamatie pasta
30 ml rissie poeier, of na smaak
15 ml uie poeier
30 ml paprika
15 ml fyn komyn
sout en varsgemaalde swart peper na smaak
400-g blik gekapte tamaties
Verhit die olie in 'n swaarboom kastrol. Braai die stowevleis bietjie-bietjie in die olie tot goudbruin. Skep uit en braai dan die maalvleis in dieselfde kastrol tot gaar. Skep uit. Braai die uie, soetrissie en knoffel in dieselfde kastrol. Voeg die tamatiepasta, spesery en tamaties by en roer deur. Voeg die vleis by. Prut oor lae hitte vir ongeveer 1 uur, of tot die stowevleis sag is. (Voeg water by indien nodig.) Bedien warm.
12 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 2.8g