Koffie en vark is regtig 'n heerlike kombinasie, en hierdie tjops is werklik iets besonders. Die sous maak ook 'n lekker basis vir enige iets van roerbraai tot frikkadelle. Probeer dit gerus.
6 varktjops van ongeveer 100g elk
30 ml olie
30 ml botter
100 g uie, in ringe gesny
30 ml kitskoffie korrels
250 ml kookwater
125 ml asyn
60 ml xylitol/erythritol, of versoeter na smaak
knippie xanthan gum
Voorverhit die oond tot 150°C. Keep die vetkante van die varktjops in. Verhit die olie en braai die tjops aan albei kante tot goudbruin en pak in ‘n enkel laag in ‘n gesmeerde oondbak. Verhit die botter in ‘n braaipan en braai die uie tot sag. Los die koffie in die kookwater op en meng dit met die asyn, xylitol en xanthan gum. Voeg dit by die uie in die pan. Proe en geur met sout en peper. Laat dit prut tot die sous verdik. Gooi die sous oor die tjops, bedek die bak met tinfoelie en bak vir 45-60 minute tot die tjops sag is. Bedien warm.
6 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 2.2g
Leanda se LowCarb Wenk:
My raad met xanthan gum is altyd dieselfde - as die resep sê 'n knippie, dan gooi jy een knippie by! Te veel xanthan gum maak 'n gereg slymerig en alles behalwe aptytwekkend. Moet nooit te veel bygooi nie. Begin met 'n knippie en as dit nog nie dik genoeg na jou sin is nie, gooi nog 'n knippie by, roerkook deur en so aan.