Hierdie is een van my gunsteling frikkadel-resepte. Indien jy die gereg nóg meer spesiaal wil maak, gooi 'n LowCarb Kaas Sous bo-oor en sprinkel met kaas voor die laaste 20 minute van baktyd,
6 groot koolblare
500 g bees maalvleis
500 g vark maalvleis
10 ml fyn koljander
1 ml fyn naeltjies
1 ml fyn neut
sout en varsgemaalde swart peper na smaak
25 ml asyn
2 eiers
30 ml droë pietersielie
Plaas die koolblare in 'n groot bak en gooi kookwater oor die blare - sorg dat dit deeglik bedek is. Laat staan die blare vir ten minste 5 minute terwyl jy die frikkadelle berei. Meng die maalvleis, koljander, naeltjies, neut, sout en peper en asyn saam. Klits die eiers en voeg by, asook die pietersielie. Meng alles goed deur en verdeel die mengsel in 6 ewe groot frikkadelle. Verwyder die koolblare uit die kookwater. Plaas 'n frikkadel in die middel van elke koolblaar en vou dit in 'n pakkie toe. Plaas die frikkadelle in 'n oondbak met 'n deksel en gooi 125 ml kookwater in die oondbak. Bedek en bak teen 150°C vir 1 uur. Bedien warm.
6 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 1.2g