Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

LéANDA SE LOWCARB GAMMON

By ©️ Leanda C. Retief
LéANDA SE LOWCARB GAMMON picture

Ek en die kids is almal baie lief vir gammon - en gelukkig maak gevriesde gammon dit moontlik om regdeur die jaar hierdie heerlike stukkie vleis te eet! En te eksperimenteer met lekker maniere om dit gaar te maak. Baie mense het baie maniere om gammon gaar te maak, maar hierdie is een van my gunstelinge - heerlike en laag in koolhidrate!

1 gammon 
suikervrye gemmerlim (ginger ale)
1 ui
peperkorrels
lourierblare
gemengde kruie (mixed herbs)
diabetiese/suikervrye appelkooskonfyt

As jy 'n gevriedse gammon gebruik ontvries dit eers. Plaas die gammon in 'n prutpot/slowcooker en gooi genoeg gemmerlim in die bak om die gammon so halfpad te bedek. Sny die ui in groot stukke en voeg dit saam met peperkorrels, lourierblare en gemengde kruie na smaak by. Ek kook my gammon op "auto" vir so ses ure, en draai dit na drie ure om (sodat die ander helfte van die gammon in die gemmerlim kook). Skep die gammon versigtig uit en verwyder die toutjies. Verf die bokant met die konfyt. Airfry vir so 5-10 minute, tot die vetlaag lekker bros is. Draai om, verf die ander kant met konfyt en airfry weer vir 5-10 minute.

Léanda se Notas:
Het julle geweet dat gammon is basically gaar omdat dit gerook is? Ons kook dit om die ergste souterigheid uit die gammon te kry.
Gemmerlim gee 'n heerlike smaak aan gammon, maar jy kan dit in water ook kook. Bier en appelsap is dalk nie so goeie keurse vir LowCarbers nie, maar dis ook 'n opsie.
As jy nie 'n prutpot/slowcooker het nie, kan jy die gammon in 'n gewone kastrol kook - ek vind so 1-2 ure oor lae hitte, afhangende van die grootte van die gammon. (Voorskrifte sê 30 minute kook per 500g gewig.) Ek verkies die slowcooker, want dit maak die gammon heerlik sappig.
Die konfyt gee 'n heerlike smaak en glaze aan die gammon - jy kan ook suikervrye/diabetiese blatjang by die konfyt gooi as jy dit byderhand het, selfs dijon-mosterd of fyn gemmer. Die hoeveelheid wat jy gaan gebruik, gaan afhang van die grootte van die gammon. 
Airfry tyd sal afhang van die grootte van die gammon en die sterkte van jou airfryer. Voor ek my airfryer gekoop het, het ek die gammon (selfs skaapboud) in my glasoondje gerooster tot dit lekker bruin en bros is. Jy kan dit natuurlik ook in die gewone oond rooster.
Die goeie nuus? Hierdie gammon bevat minimale (skaars merkbare) hoeveelhede koolhidrate - so smul gerus hieraan oor Kersfees!

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp