Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

LOWCARB 101 - TUISGEMAAKTE MAYONNAISE

By ©️ Leanda C. Retief
LOWCARB 101 - TUISGEMAAKTE MAYONNAISE picture

Min mense besef dit, maar mayonnaise is perfek vir 'n LowCarb Dieet. En tuisgemaakte mayonnaise is soveel lekkerder as winkel-mayonnaise, het baie minder preserveermiddels en ander dinge en is glad nie so moeilik om te maak nie! En dit is SUPER LAAG in Net Carbs!!!

Wat is Mayonnaise?
Mayonnaise is 'n stabiele mengsel of EMULSIE van olie en asyn, waarby eiergeel gevoeg word as die emulsifiseerder - dws dit help hierdie twee "onmengbare" bestanddele om met mekaar te meng. Tuisgemaakte mayonnaise kry gewoonlik sout en mosterdpoeier by, want dit geur die mayonnaise en dit help dat die emulsie kan plaasvind.

Watter olie is geskik?
Amper enige olie kan gebruik word - onthou net dat baie tipes olie baie duur is, dus probeer eers met goedkoper olie soos canola of sonneblom tot jy dit maklik kan regkry. Neem ook in ag dat sommige olies (bf olyf) 'n baie sterk en dominerende geur het, dus moet jy ongeveer 2/3es van die olie met 'n meer neutrale olie (bv sonneblom) vervang.

Rou eiers?
Ja, mayonnaise word van rou eiers gemaak. Kies daarom altyd vars eiers. Onthou, rou eiers dra altyd die risiko van salmonella-vergiftiging, dus maak seker dat die eiers wat jy vir mayonnaise gebruik, vars is en van 'n betroubare bron afkomstig is!

Met die Hand of met 'n Menger?
Dit is jou keuse. Jy kan mayonnaise met 'n draadklitser (whisk) met die hand klits, maar onthou dat dit verskriklik baie klitswerk is. Daarom is dit dalk 'n beter idee om dit met 'n eierklitser (hoë spoed) of 'n voedselverwerker te doen. Jy kan ook 'n woer-woer (stick blender) gebruik - inteendeel, dis baie-baie vinnig! Ek sal ook beginners aanraai om dit eers met 'n klitser/voedselverwerker/woer-woer te probeer sodat jy kan sien hoe dit emulsifiseer en hoe dit moet lyk.

Hoe Om 'n Voedselverwerker te Gebruik
'n Voedselverwerker maak mayonnaise-maak net soveel vinniger. Plaas die eiers, mosterdpoeier, asyn, sout en suurlemoensap in die bak van die menger, en skakel dit aan. Hou aan met verwerk terwyl die olie druppel vir druppel daarby ingegooi word. Jy kan 'n bietjie water ook byvoeg as dit te dik raak.

Eiergeel of Heel Eier?
Baie chefs voel dat mens slegs die eiergeel gebruik vir mayonnaise. Sommige mense gebruik die hele eier (wat maak mens dan met die eierwit?) Ek stem vir die eiergeel - gebruik die oorskiet eierwit by jou roereiers of meng dit by jou omelet in. Dit is nooit 'n vermorsing op 'n LowCarb Dieet nie!

Hoe om Tuisgemaakte Mayonnaise te Stoor:
Skep die mayonnaise uit in 'n skoon (verkieslik gesteriliseerde) fles met 'n deksel. Jy kan dit in die yskas stoor vir tot 5 dae.

Wat van ander geure?
Die basis mayonnaise-resep kan gebruik word vir allerhande geur en kleur-kombinasies: Kappertjiesaad, gherkins, suurlemoen en lemmetjie, mosterd, wasabi, vars kruie, gegeurde olies, uie en knoffel.

Hier is die reëls van Tuisgemaakte Mayonnaise:
* Eiers moet teen kamertemperatuur wees
* Gebruik skoon en droë toerusting
* Voeg jou olie BAIE STADIG BY!!! Aan die begin letterlik 'n druppel op 'n slag. As jy die olie te vinnig byvoeg, gaan jy nie 'n emulsie kry nie.

Probleme:
* Geskifde mayonnaise gebeur wanneer die olie te vinnig bygevoeg word, daar nie hard genoeg geklits word nie of wanneer koue bestanddele gebruik word. Dit is egter nie nodig om dit in die drein af te spoel nie. Meng die geskifde mayonnaise STADIG by 'n nuwe eiergeel en voeg die olie dan baie stadig daarby. Dit behoort die probleem op te los.
* Tuisgemaakte mayonnaise raak dikwels baie dik wanneer dit in die yskas gestoor word, en 'n olierige lagie kan bo-op vorm. Om dit op te los, laat die mayonnaise tot by kamertemperatuur verhit, en klits dit weer vinnig met 'n klein bietjie water, suurlemoensap of asyn tot dit weer die regte tekstuur het.

EN NOU VIR DIE RESEP...

BELANGRIK:
Vir elke eiergeel gebruik 100 ml olie en 5 ml mosterdpoeier.
As jy die HELE eier gebruik, gebruik 150 ml olie en 5 ml mosterpoeier.
Gooi die eier in die bak van 'n voedselverwerker. Gooi 'n knippie sout en die mosterdpoeier by. Skakel die voedselverwerker aan en meng goed. Terwyl die masjien hardloop, voeg die olie druppel-vir-druppel by. Aan die begin gaan dit lyk asof niks gebeur nie, maar die mengsel gaan mettertyd begin verdik. Wanneer die mengsel verdik, kan jy die res van die olie stadig daarby "drizzle" tot alles bygevoeg is. Voeg nou 45 ml suurlemoen- of lemmetjiesap of asyn by en meng goed. Geur na smaak.
Hierdie resep lewer ongeveer 125 ml mayonnaise en bevat 1.3g Net Carbs.

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp