Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

LowCarb HERDERSPASTEI

By Leanda Retief
LowCarb HERDERSPASTEI picture

Hierdie herderspasei kry ‘n heerlike kors van blomkool en pampoen. Dit is een van my gunsteling Herderspastei-resepte om te maak.

Vleismengsel:
30 g botter
200 g uie, fyngekap
1 kg beesmaalvleis
2 knoffelhuisies, fyngemaak
200 g tamaties, in blokkies gesny
60 ml tamatiepasta
5 ml Worcestersous
sout en peper na smaak

Verhit die botter in ‘n braaipan en braai die uie daarin tot sag en goudbruin. Gooi die maalvleis en knoffel by en braai tot die vleis gaar is. Meng die tamaties hierby in, asook die tamatiepasta. Bedek en kook vir ongeveer 15 minute tot die tamaties gaar is en die mengsel lekker dik is. Geur na smaak met Worcestersous, sout en peper. Skep die mengsel uit in ‘n gesmeerde oondvaste bak.

Bolaag:
150 g blomkool
50 g pampoen
30 g botter
60 ml room
sout en peper na smaak
pietersielie na smaak
80 g cheddar, gerasper

Kook die blomkool en pampoen apart – hulle kook nie ewe lank nie en dus gaan jy met ‘n blomkool-pappery sit teen die tyd wat die pampoen gaar is. Kook die blomkool net nét sag, dreineer deeglik en gooi uit in ‘n mengbak. Kook die pampoen ook tot nét gaar, dreineer en gooi dit by die blomkool. Maak dit fyn met ‘n aartappeldrukker en gooi die botter en suurroom by (jy het dalk nie nodig om al die suurroom te gebruik nie – gebruik soveel soos wat jy nodig het vir ‘n lekker romerige “kamma kapokaartappels”). Geur na smaak met sout en peper en meng ‘n bietjie droë pietersielie by. Skep die bolaag bo-op die maalvleis en maak gelyk. Sprinkel die kaas bo-oor. Bak teen 180°C vir ongeveer 20 minute tot die kaas gesmelt en die gereg deurwarm is. Bedien warm.
8 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 4.0g

Hierdie is een van die Treffer-Resepte in die LowCarb Vleisboek Resepteboek. 
Vind meer inligting hier: https://www.lowcarbkombuis.co.za/products/die-lowcarb-vleisboek/

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp