Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

LowCarb JELLIE-NAGEREGTE

By Leanda Retief
LowCarb JELLIE-NAGEREGTE picture

Een van die dinge wat ek die meeste op 'n LowCarb Dieet geniet, is jellie. Jellie is toelaatbaar - en daar is ook heelwat navorsing wat bewys dat gelatien goed is vir jou en gewigsverlies bevorder en ook ander gesondheidsvoordele het.

Die belangrikste ding van LowCarb Jellie, is dat dit nie suiker kan bevat nie. Daar is heelwat suikervrye/diabetiese jellies op die mark - wat versoet is met kunsmatige versoeter. Hierdie jellie sal jy dan ook volgens die aanwysings op die pakkie aanmaak en stol soos wat jy verkies.

'n Baie veelsydiger (en goedkoper) metode is om jou eie LowCarb Jellie te maak. Die formule is eenvoudig:
20 ml gelatien
125 ml warm water of ander vloeistof
375 ml koue vloeistof
Los die gelatien in die warm vloeistof op en meng dit dan by die koue vloeistof in. Plaas in die yskas om te stol.

Die warm vloeistof hoef nie noodwendig warm water te wees nie. Jy kan byvoorbeeld suikervrye koeldrank in die mikrogolf verhit tot baie warm, die gelatien daarin oplos en dan by koue suikervrye koeldrank voeg.

Jy kan enige suikervrye koeldrank gebruik, bv Sweeto, LowCal of Slimsy - gaskoeldrank sal nie werk nie, maar daar is 'n hele paar opsies beskikbaar in aanmaakkoeldrank. As jy voel dat die suikervrye koeldrank nie 'n helder genoeg jellie na jou smaak vorm nie, kan jy voedselkleursel byvoeg om die kleure helderder te maak.

Vir groen jellie kan jy Sweeto Cream Soda gebruik.
Vir rooi jellie kan jy Sweeto Raspberry of Slimsy Mixed Berry gebruik.
Vir orange jellie kan jy Sweeto Lemoen of LowCal Oros gebruik.
Vir geel jellie kan jy Sweeto Pinenut gebruik.

Jy kan selfs koffie stol - onthou net om dit te versoet! (Een van die lekkerste jellies wat ek nog gemaak het, was swart koffie en roomkoffie in lae, met 'n homp styfgeklitste room bo-oor en gerasperde sjokolade.)

Om room in jellie te verander, gebruik ons dieselfde formule:
20 ml gelatien
125 warm room (moenie dat dit kook nie, dit sal skif - verhit net tot baie warm)
375 ml koue room
Los die gelatien in die warm room op, en roer dit by die koue room in. Plaas in die yskas om te stol.

Jy kan die hoeveelhede vir jou jellie aanpas volgens die hoeveelheid wat jy nodig het - verhelfte die resep indien jy minder jellie benodig, of verdubbel dit indien jy meer jellie benodig.

Nadat jou jellie gemaak is, kan jy 'n magdom oulike dinge daarmee doen, soos in die foto geillustreer:
* Stol jellie in lae in bakkies, of glase, met of sonder roomjellie tussen die lae. Jy kan dit ook in 'n groot bak laat stol en in blokkies sny.
* Sny vrugte by die jellie in voordat dit stol.
* Stol jellie in jellievorms of enige ander vorm - daar is oulike silikon vorms beskikbaar by bakwinkels.
* Stol jellie in 'n dun laag en druk versigtig vorms met 'n koekiedrukker uit.
* Meng room by die jellie in vir 'n romerige jellie
* Bedien jellie met styfgeklitste room, ment blaartjies en toelaatbare vrugte (soos raspberries, aarbeie of bosbessies)
* Sny jellie in blokkies, pak dit in 'n ringvorm en gooi roomjellie bo-oor sodat die blokkies daarin kan stol.

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp