'n Klassieke gunsteling - geskik vir LowCarbers. Hierdie is 'n baie basiese resep - jy kan ander LowCarb-toelaatbare vleis en/of groente bysit.
700 g blomkool
15 ml olie
2,5 ml sout
2,5 ml varsgemaalde swart peper
30 g botter
300 ml volroom melk
125 ml room
200 g cheddar, gerasper
knippie paprika, vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 220°C. Breek die blomkool in stukkies, was en droog af. Sny die blomkool in kleiner stukkies (om en by ewe groot) en pak in ‘n enkel laag op ‘n gesmeerde bakplaat. Sprinkel die olie bo-oor, asook die helfte van die sout en peper. Bak vir 15 minute, of tot net sag en effens bruin om die randte. Verwyder uit die oond en sit eenkant. Smelt die botter in ‘n pan oor medium hitte. Roerkook die botter vir 5 minute, tot bruin. Voeg die melk en room by. Verhit tot die sous liggies prut, sprinkel die cheddar by en roerkook tot die kaas gesmelt is. Roer die oorblywende sout en peper by. Prut vir 5-10 minute, roer gereeld, tot die vloeistof begin verdamp en die sous verdik. Verwyder van die hitte. Skep die blomkool in ‘n groot bak en roer die sous by. Sprinkel bietjie paprika bo-oor en bedien warm.
Léanda se LowCarb Wenke:
Sny die blomkool in klein stukkies sodat dit soos stukkies pasta lyk.
Deur die blomkool te rooster, gee ekstra geur en tekstuur aan die gereg.
Die gebruinde botter maak die kaas sous ryker en meer geurig.
6 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 1.5g