Wat 'n heerlike ete vir 'n besige weeksaand of oor 'n naweek! Die pizza kry 'n interessante basis van maalvleis - en saam met die toppings is dit absoluut heerlik! Die beste maalvleis om te gebruik, is 'n kombinasie van vark en bees, maar as jy nie vark kan kry nie, kan jy slegs bees gebruik.
Pizza Basis:
250 g bees maalvleis
250 g vark maalvleis
30 ml roomkaas
100 g amandel meel
25 g klapper meel
150 g mozzarella, gerasper
25 g parmessaan, gerasper
2 eiers
Voer 'n 33x23cm bakplaat/rolkoekpan met bakpapier uit en spuit met kleefwerende middel. Voorverhit die oond tot 180 grade. Meng die maalvleis, roomkaas, amandel meel, klapper meel, mozzarella, parmessaan en eiers goed saam. Druk die mengsel op die boom en teen die kante van die pan vas. Bak vir 12 minute en verwyder uit die oond.
Pizza Bolaag:
15 ml olie
100 g uie, in ringe gesny
75 g rooi soet rissie, in repe gesny
200 g spinasie, gewas en in repe gesny
4 knoffelhuisies, fyngemaak
30 ml tamatie pasta
15 ml olie
2,5 ml xylitol, of versoeter na smaak
50 g cheddar, gerasper
200 g mozarella, gerasper
Verhit die 15ml olie in 'n braaipan en soteer die uie en soetrissie tot sag. Voeg die spinasie by en soteer tot die spinasie net begin verwelk. Dreineer en hou eenkant. Meng die knoffel, tamatie pasta, olie en xylitol saam. Smeer die tamatiemengsel oor die pizza basis. Skep die groente bo-oor. Sprinkel die cheddar en mozzarella kaas bo-oor. Bak vir 8-10 minute, of tot goudbruin.
8 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 5.1g