Ek is ONGELOOFLIK opgewonde oor hierdie resep! 'n Plaatkoek maak dinge net soveel makliker vir verjaarsdae en "bordjie soet" dae. Die koek word in 'n 24x18cm pyrex bak gebak - die perfekte grootte vir enige sjokolade plaatkoek!
130 g klapper olie
70 g kakao poeier
4 eiers, geskei
150 ml xylitol/erythritol
50 g klapper meel
30 g makadamia/amandel meel
5 ml bakpoeier
knippie sout
Sjokolade Ganache en klapper "flakes" vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer/spuit 'n 24x18cm oondvaste glasbak. Smelt die klapper olie in 'n mengbak in die mikrogolf en voeg die kakao daarby. Klits met 'n elektriese menger tot goed gemeng. Voeg die eiergele en versoeter by en klits weer. Vou die klapper en makadamia meel en bakpoeier by die mengsel in. Klits die eierwitte saam met die sout tot stywe punte vorm en vou dit by die sjokolademengsel in. Skep die deeg uit in die bak, maak gelyk en bak vir 20-30 minute of tot 'n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat afkoel en versier na keuse.
16 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 3.2g
Leanda se LowCarb Wenk:
Maak Sjokolade Ganache deur so 100g suikervrye sjokolade met 30ml room in 'n glasbeker in die mikrogolf te smelt. Roer elke 30 sekondes tot die sjokolade gesmelt is, en dit moet nie kook nie. Laat die gananche so bietjie afkoel voor dit gebruik word - dit word dikker en meer smeerbaar soos dit afkoel.