Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

LowCarb TOASTED CHEESE

By ©️ Leanda C. Retief
LowCarb TOASTED CHEESE picture

Een van my gunsteling vinnige en maklike etes! Hoe meer kaas, hoe lekkerder smelt die broodjie!

Ons maak eerste die Broodjie:
45 ml (3 E) amandel meel
15 ml (1 E) parmessaan, gerasper
1.5 ml bakpoeier
knippie uie poeier en sout
15 ml (1 E) cheddar, gerasper
1 eier
15 ml olie

Vir die Toasted Cheese:
75 g cheddar, skywe gesny
15 ml mayonnaise
7,5 g botter

Berei die Brood: Meng die amandel meel, parmessaan, bakpoeier, uie poeier en sout saam in ‘n mengbak. Roer die cheddar, eier, olie en botter by. Meng tot ‘n stywerige deeg en skep uit in ‘n gesmeerde vierkantige mikrogolfvaste bakkie. Mikrogolf die brood vir ongeveer 90 sekondes, of tot gaar. (Indien die brood klam is na die 90 sekondes, mikrogolf vir 15 sekondes op ‘n slag tot dit gaar is.) Keer die brood uit en hou eenkant.

Berei die Toasted Cheese: Verhit ‘n braaipan op medium-hoog hitte. Sny die brood in die helfte deur (sodat jy twee dun snytjies het). Smelt die botter in die pan. Plaas die twee snye brood in die warm botter en braai tot die brood bros en goudbruin aan die onderkant is. Draai albei snye om. Smeer die mayonnaise bo-oor albei snye en pak die kaas bo-op een sny. Plaas die snye bo-op mekaar en braai aan die buitekant tot bros en goudbruin. Sny die brood middeldeur en bedien dadelik.

Leanda se LowCarb Wenke:
Vir ekstra smelterige kaas, los die kaas teen kamer-temperatuur vir ‘n uur of twee voor gebruik.
Maak seker dat die pan redelik warm is voordat jy die brood daarin rooster – as die pan te koud is, gaan die brood nie bros rooster nie.
Addisionele Byvoegings en Vulsels:
Lus om ietsie ekstra by die Toasted Cheese te voeg? Fyngekapte Soetrissies, Tamatie Snye, Avokado, Spinasie, Gekookte Ham of Salami – of probeer hierdie kombinasies:
Ham, Dijon Mosterd en Switserse Kaas
Gerookte Hoender, Spinasie en Brie
Gefrummelde Vark, Gaar (en fyngekerfde) Kool en Cheddar
Avokado en Feta
1 Porsie * Per Porsie * Net Carbs 1.5g
(Sonder opsionele byvoegings/vulsels)

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp