Omelet Rolletjies is een van my gunsteling LowCarb-geregte. Dis vinnig en veelsydig. Jy kan omelet rolletjies in twee sny, of jy kan dit in dunnerige ringe sny vir 'n soutbordjie. Omelet Rolletjies kleef makliker aan mekaar as jy iets soos mayonnaise of roomkaas byvoeg. Jy kan enige iets LowCarb as vulsel vir Ontbyt Rolletjies gebruik.
2 eiers
15 ml water
5 g botter
15 ml mayonnaise
30 g gekookte ham
10 g blaarslaai
20 g cheddar, gerasper
Klits die eiers en water saam met 'n draadklitser. Geur na smaak met sout en peper. Smelt die botter in 'n kleinerige pannetjie en gooi die eiermengsel daarin. Bedek en bak oor lae hitte tot die omelet heeltemal gaar is. Keer die omelet uit op 'n broodplank. Smeer die mayonnaise bo-oor. Sny die ham en blaarslaai in dun repies. Sprinkel dit oor die omelet, gevolg deur die kaas. Rol die omelet styf op en sny in skywe (steek met tandestokkies vas indien nodig). Bedien warm of koud.
1 Porsie * Per Porsie * Net Carbs 1.8g