Ek het grootgeword met hierdie slaai in die huis - as dit warm is, was my ma baie lief daarvoor om dit te maak. Ek het dit decarb en in plaas van gewone witrys, gebruik ons kamma (blomkool) rys. Dit is steeds 'n wenner!
200 g gerysde blomkool
100 g komkommer, in klein blokkies gesny
100 g tamatie, in klein blokkies gesny
100 g blaarslaai, in repe gesny
50 g groen soetrissie, in klein stukkies gesny
50 g rooi soetrissie, in klein stukkies gesny
50 g rooi uie, fyn gekap
2 x 180g-blikkies tuna, gedreineer
100 ml mayonnaise
30 ml room
xylitol/erythritol, of versoeter na smaak
sout en peper na smaak
Plaas die blomkool in 'n glasbak, bedek met kleefplastiek en mikrogolf vir 2 minute of tot dit net sag is - dit moet nog effens bros wees en nie papsag nie. Dreineer en plaas in 'n mengbak. Voeg die komkommer, tamatie, blaarslaai, soetrissie, uie en tuna by en meng goed deur. Meng die mayonnaise en room saam, voeg versoeter by (indien verkies) en geur na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper. Meng die mayonnaise by die slaai in en verkoel voor opdiening.
4 Porsies * Per Porsie * 1125kJ * Net Carbs 4.1g