Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

SJOKOLADE BROSBROOD KOEKIES

By Leanda Retief
SJOKOLADE BROSBROOD KOEKIES picture

Ek weet nie van julle nie, maar in die winter is koekies 'n moet! Gelukkig vir LowCarbers, is daar baie koekie-resepte, en die beter nuus is dat koekies regtig nie so verskriklik duur is om te bak nie. Van al die koekie-resepte wat ek deur die jare probeer het, is hierdie een my gunsteling - want alles is beter met sjokolade in, en hoe meer sjokolade, hoe beter!

125 g botter, koud en in blokkies gesny
120 g amandel meel
30 g klapper meel
75 g xylitol/erythritol, of na smaak
10 ml gelatien
5 ml vanilla
100 g suikervrye/90% kakao sjokolade splinters

Opsioneel:
100 g suikervrye/90% kakao sjokolade om koekies in te doop

Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit en spuit liggies met kleefwerende sproei. Plaas die botter, amandel en klapper meel, versoeter, gelatien en vanilla in ‘n voedselverwerker en pols tot ‘n hanteerbare deeg vorm. Meng die sjokolade splinters hierby in. Verdeel die deeg in 16 balletjies en pak op die bakplaat. Druk die koekies plat met die agterkant van ‘n lepel. Bak die koekies teen 180°C vir 12-15 minute of tot dit begin verbruin, afhangende van dikte. Laat die koekies vir 5 minute op die bakplaat afkoel, verwyder van die plaat en plaas op ‘n draadrakkie om heeltemal af te koel. Bêre in ‘n lugdigte houer.

Smelt die opsionele 100g sjokolade in die mikrogolf en doop elke koekie halfpad in die sjokolade. Laat op ‘n draadrakkie tot koud en die sjokolade gestol is.
16 Porsies * Per Porsie * Net Carbs 1.9g

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp