140 g haselneute
200 g amandels
160 g lynsaad
30 g kakao, onversoet
2,5 ml sout
60 g botter, gesmelt
60 ml (haselneut) olie
60 g suikervrye sjokolade
65 g xylitol, of versoeter na smaak
2,5 ml haselneut geursel
Voorverhit die oond tot 150°C. Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit en spuit dit met kleefwerende middel. Plaas die haselneute en amandels in ‘n voedselverwerker en verwerk tot dit soos growwe krummels lyk, met ‘n paar groterige stukkies tussen in. Gooi dit in ‘n mengbak uit. Plaas nou die lynsaad in die voedselverwerker en maal dit tot ‘n growwe meel. Gooi dit ook in die mengbak. Meng die kakao en sout hierby in. Smelt die botter, haselneut olie en sjokolade in ‘n glasbeker in die mikrogolf. Roer die xylitol by. Verwyder van die hitte en roer die geursel by. Gooi die sjokolademengsel oor die neute en roer dit saam, sodat van die mengsel aan mekaar vaskleef. Sprei die mengsel op die bakplaat uit en bak vir 15 minute. Roer dit elke 5 minute deur. Skakel die oond af en laat dit vir nog 20 minute in die oond staan. Hou dit goed dop – dit brand maklik! Laat heeltemal in die bakplaat afkoel en stoor in ‘n lugdigte houer.
14 Porsies * Per 50g Porsie * Net Carbs 4.5g