Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

LowCarb 101 🍅 HOE WERK 'N LOWCARB DIEET ?

LowCarb 101 🍅 HOE WERK 'N LOWCARB DIEET ? picture

LowCarb 101 🍅 HOE WERK 'N LOWCARB DIEET ?
©️ Leanda C Retief

Daar is uiteenlopende opinies oor hoekom ‘n LowCarb Dieet so goed werk, maar daar is slegs een rede – ‘n LowCarb Dieet werk so goed omdat dit laag is in koolhidrate. Die hoeveelheid vette of proteïene wat jy inneem het niks daarmee te doen nie. Selfs diegene op ‘n LCHF (Low Carb High Fat) dieet wat groot hoeveelhede vette inneem, verkeer onder ‘n wanindruk dat die vette verantwoordelik is vir hulle gewigsverlies. Die vette help wel om jou langer versadig te hou, wat op sy beurt weer keer dat jy ooreet en as jy minder eet, verloor jy gewig.

Die ENIGSTE rede waarom mense op ‘n LowCarb Dieet gewig verloor, is omdat hulle die Negatiewe Koolhidrate drasties sny. Baie mense beweer hulle het gewig verloor deur slegs brood en suiker uit hulle dieet te sny? Dit is heeltemal moontlik, want brood en suiker is ongelooflik-negatiewe (of sommer net slegte) koolhidrate en wanneer mens dit uit die dieet sny, is daar dikwels ‘n drastiese verbetering in gesondheid en gewigsverlies.

Maar hoe werk dit presies? Hoekom werk ‘n LowCarb Dieet soveel beter as ander diëte? Hoekom het ek na elke liewe dieet wat ek gevolg het, nie gewig verloor nie – maar op LowCarb gaan dit eintlik heel maklik? Die logika agter LowCarb is eintlik redelik eenvoudig:  Jy weet reeds dat jou liggaam sy energie verkry uit die kos wat jy eet. Jy weet ook dat ons hoofbron van energie afkomstig is van suiker of glukose, en dat dit afkomstig is van die koolhidrate wat ons eet. Jy behoort te weet dat koolhidrate alles is wat suiker en stysel bevat – rys, aartappels, patat, pasta, vrugte, lekkers, sjokolade, ontbytpap, koekmeelblom en alles wat daarvan vervaardig word (soos brood, koekies en koek) en so aan. Alles van plantaardige oorsprong bevat koolhidrate – net in verskillende hoeveelhede. Rys, koring (en ook meel), groente, vrugte, neute… As dit van ‘n boom of plant afkomstig is, bevat dit koolhidrate. Baie mense verkeer nog onder die wanindruk dat sommige groente (soos komkommers of blaarslaai) “vry groente” is – daar is geen vry groente op ‘n LowCarb Dieet nie – alles bevat koolhidrate. Meeste mense vandag eet ‘n (dikwels baie ongesonde) kombinasie van kool-hidrate, vette, proteïen, groente en vrugte. 

Een van die redes vir herdie ongesonde kombinasie van kosse, is omdat ons deur die jare deur die dieet-industrie gebreinspoel is om te glo dat ‘n “gebalanseerde dieet” bestaan uit ‘n kosse wat hoog is in koolhidrate, min vleis bevat en nog minder vet. Die realiteit van die saak is dat dit wat al vir jare as “gebalanseerd” beskou is, vir baie mense allesbehalwe ‘n balans in hulle liggame veroorsaak, en dat die oorgrootte meerderheid mense op hierdie “gebalanseerde dieet” te veel dinge eet wat nie goed met hulle liggame akkordeer nie. 

Dit is ook medies bewys dat ‘n groot hoeveelheid mense net nooit gesond is of lekker voel op ‘n dieet hoog in koohidrate nie – en afgesien daarvan dat hulle gewig optel, sukkel hulle ook met gesondheidstoestande soos asma, infeksies, arthritis, diabetes en depressie. Baie kenners en skrywers van boeke (soos Paleolithic Diet en Primal Blueprint) beweer dat die mens as spesie in die oertyd hoofsaaklik van vleis geleef het – wat uit ‘n historiese oogpunt sin maak, aangesien prehistoriese mense jagter-versamelaars was. Dit beteken hulle dieet het hoofsaaklik bestaan uit die vleis van diere wat hulle gejag het, en bessies wat hulle versamel het. Een van die redes waarom mense vandag so ongesond is, is omdat ons liggame nie regtig al hierdie verfynde en verwerkte kosse kan verteer waarvan ons elke dag so baie eet nie. En dit is ook dan hoekom mense wat hierdie dieet volg en “back to basics” gaan, dikwels optimaal gesond is en op teikengewig. 

Dit is hoe “eet en kos” vir die gemiddelde persoon werk: Jy eet koolhidrate (in die vorm van stysel en suiker) en daardie koolhidrate word deur jou liggaam omgesit in glukose. ‘n Gedeelte van daardie glukose word gebruik vir energieverbranding – om ons liggaamsfunkies aan die gang te hou en ons brein helder en wakker te hou. Maar, dit is slegs ‘n klein gedeelte van daardie glukose wat hiervoor gebruik word, en die ongelukkige waarheid is dat die meeste van ons in die eerste plek hopeloos te veel koolhidrate eet! En wat gebeur met hierdie oortollige glukose wat nie gebruik word vir energie-verbranding nie? Dit gaan sit op jou maag, heupe en boude en word daar gestoor as liggaamsvet! Maar nou die ding wat baie mense egter nie weet nie (en dit is baie goeie nuus vir LowCarbers) is dat jou liggaam nie net koolhidrate kan gebruik vir energieverbranding nie – jou liggaam kan ook vet of alkohol gebruik daarvoor. 

Die eenvoudige resultaat van wat ons op ‘n LowCarb Dieet wil bereik, is om ons liggaam te herprogrammeer sodat dit vet in plaas van glukose gebruik vir energieverbranding. Hierdie proses waar die liggaam vet vir energie verbrand, is deur Dr Robert Atkins lipolysis genoem – the process of burning fat for energy. En dit is presies net wat dit sê – jou liggaam gebruik die vet wat jy eet, en later ook jou gestoorde liggaamsvet (dus daardie vet op jou maag, heupe en boude) en verbrand dit vir energie. En wat gebeur wanneer jou liggaam sy eie vet verbrand vir energie? Ons verloor gewig!

Die standaard laevet dieet is deur die jare gesien as die maatstaf waaraan alle diëte moet voldoen – dit is vir jare as “gesond en gebalanseerd” beskou. Maar selfs op hierdie diëte (wat brood en pasta en soetgoed beperk, maar steeds insluit) word jy steeds toegelaat om hopeloos te veel koolhidrate in te neem en dan verbrand jou liggaam die heeltyd die glukose wat van daardie koolhidrate afkomstig is. Die hartseer ding is dat mense op ‘n standaard laevet dieet dikwels goed gewig verloor aan die begin, maar wanneer hulle toegelaat word om ekstra kosse of groter hoeveelhede by te voeg, word daardie koolhidrate op die ou end weer só baie dat hulle gewigsverlies afneem of heeltemal stop. Baie mense op laevet diëte tel dus gou weer gewig op – nie omdat hulle te veel of verkeerd eet nie, maar omdat die ekstra koolhidrate wat hulle toegelaat word, dikwels net te veel is vir hulle Koolhidraat-Grens.

Hierdie Koolhidraat-Grens is ‘n konsep wat nie dikwels genoem word nie, maar wat bitter belangrik is. Elke liewe mens op hierdie planeet het ‘n Koolhidraat-Grens – dit beteken dat elke mens ‘n grens het tussen die hoeveelheid koolhidrate wat jy kan inneem wat tot gewigverlies en/of optimale gesondheid lei, en die hoeveelheid koolhidrate wat jou laat gewig optel en jou gesondheid negatief beïnvloed. Ek het gevind dat die meeste mense se koolhidraat-grens tussen 15-50g Net Carbs per dag is – en die skokkende ding is dat meeste van ons se koolhidraat-inname per dag maklik meer as 200g Net Carbs is. Klink ongelooflik? Twee snytjies witbrood bevat ongeveer 50g koolhidrate, een teelepel suiker ongeveer 12g. Dan het jy nog nie die suiker in koeldrank of koekies of sjokolade getel nie, die stysel in aartappels of rys nie, of daardie pizza wat jy vanaand gaan haal het omdat jy haastig was, of die krummels om jou Kentucky. Dit is skokkend wanneer jy begin neerskryf wat jy eet en hoeveel koolhidrate dit bevat, en dan begin dit ook sin maak hoekom soveel mense oorgewig is – oor die eenvoudige rede dat hulle net eenvoudig te veel koolhidrate inneem as wat hulle liggame effektief kan gebruik of verbrand.

Uit hierdie verduideliking kan jy dus ook sien dat wanneer jy die besluit maak om op ‘n LowCarb Dieet te gaan, jy toegewyd tot daardie besluit moet wees. Omdat jou liggaam nie glukose en vet gelyk kan verbrand nie, gaan jy jou lelik vasloop met elke liewe koolhidraat-kroekie. Sodra jy weer te veel of onnodige koolhidrate inneem, gaan jy daardie u-turn weer omkeer en gaan jou liggaam weer begin om glukose te verbrand vir energie en wat gebeur as ons te veel glukose in ons liggame het? Ons tel weer gewig op! Meeste mense besef nie dat dit 24-48 uur neem (afhangend van metabolisme) vir jou liggaam om van koolhidrate ontslae te raak – dus wanneer jy te veel koolhidrate inneem of besluit om met iets te kroek, sit jy jou gewigsverlies terug met 24-48 uur. Jy verbrand slegs vet vir energie wanneer jy in ketose is, en ketose is ‘n baie spesifieke toestand met ‘n baie fyn balans. Na so ‘n koolhidraat-kroek neem dit ure vir jou liggaam om weer in ketose te gaan. Ketose is ‘n konsep wat LowCarbers dikwels verwar. Eerstens, dit moenie verwar word met enige ander toestand nie – ketose beteken basies dat jou liggaam in ‘n toestand is waar jy vet verbrand vir energie. Dit is nie gevaarlik nie, dit skei nie enige gifstowwe af nie en jy gaan beslis nie dood daarvan neerslaan nie. ‘n Ketose Dieet word al vir jare gebruik om mense wat aan epilepsie ly, of kinders met erge ADHD te behandel. Jy kan nie in ketose wees wanneer jy te veel koolhidrate inneem nie, want jy verbrand dan die koolhidrate en nie die vet nie. Wanneer jy op ‘n LowCarb Dieet is, wil jy in ketose wees, want dit beteken jy neem min genoeg koolhidrate in sodat jou liggaam vet verbrand vir energie. En wanneer dit gebeur, sal jy gewig verloor.

Dit is baie belangrik om te onthou dat die oorgang van ‘n HighCarb Dieet na ‘n LowCarb Dieet nie ligtelik opgeneem kan word nie. Hierdie dieet kan slegs werk met die vermindering of afwesigheid van koolhidrate – indien jy meer vette en proteïene gaan inneem, maar nog steeds met koolhidrate gaan kroek of nie binne jou Net Carbs vir die dag bly nie, volg jy dan in effek die ongesondste dieet wat menslik moontlik is. Kan jy jou vir ‘n oomblik indink dat jy ‘n dieet hoog in stysel en suiker, hoog in vet en hoog in proteïen wil volg? Jy sou dit nie onder normale omstandighede eers oorweeg het nie. Onthou net as jy kroek op ‘n LowCarb Dieet, is dit presies wat jy doen. Jy eet bitter-bitter ongesond. Jy moet dus sorg dat jy emosioneel gereed is om die skuif te maak, want sonder hierdie emosionele gereedheid, gaan jy sukkel om by die dieet te hou of om gewig te verloor. Die positiewe ding is dat daar ongelooflik baie hulpbronne, inligting en resepte beskikbaar is om dit vir jou makliker te maak en die volhoubaarheid van jou LowCarb Dieet te verseker. 

💕 Sluit aan by ons LowCarb met Leanda Whatsapp Inligting/Wenkegroep: 
https://chat.whatsapp.com/LQ7K6kFlB2zGL5QnKR5uUx

💕 Sluit aan by ons LowCarb Kombuis Whatsapp Reseptegroep: 
https://chat.whatsapp.com/DTMcCpZqWen6N3i7Ny1p79

 

Share on
Click here to contact us on WhatsApp