Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

‘n LowCarb Dieet vs ‘n Glutenvrye Dieet 🌾

‘n LowCarb Dieet vs ‘n Glutenvrye Dieet 🌾 picture

‘n LowCarb Dieet vs ‘n Glutenvrye Dieet 🌾
©️ Léanda C Retief

Twee van die vrae wat ek gereeld kry, is:
Is ‘n LowCarb Dieet glutenvry?
Is ‘n Glutenvrye Dieet LowCarb?
En die antwoord is ja… EN nee.

Eerste punt wat jy moet verstaan is: ALLE kosse van plantaardige oorsprong bevat koolhidrate. (Lees dit weer en neem dit in, dis baie-baie belangrik.) Dus, as die kos van ‘n plant afkomstig is, dan bevat dit koolhidrate – sommige meer, en sommige minder. Rule of thumb is, as die kos van ‘n plant afkom en onder die grond groei (soos aartappels en patat) is dit hoër in koolhidrate, maar dit is ook nie altyd die geval nie – mielies en ertjies groei nie onder die grond nie, en is ook hoog in koolhidrate. Nieteenstaande enige dieet wat jy al in die verlede gevolg het wat sommige groente (soos komkommer en blaarslaai) as vry/free klassifiseer – in LowCarb is daar geen vry/free groente nie. As jy genoeg blaarslaai en/of komkommer eet, kan jy jou LowCarb Dieet in ‘n HighCarb Dieet verander. (Voorspoed daarmee, dis moeilik, maar dis moontlik.)

Die tweede punt wat jy moet verstaan is: Glutenvrye sade, grane en meel is van plante afkomstig – dus bevat dit koolhidrate. 

Soos jy reeds behoort te weet, fokus ‘n LowCarb Dieet op die vermindering en vervanging van koolhidrate – veral dié wat gevind word in stysel en suiker. Die doel van ‘n LowCarb Dieet is om die liggaam se inname van glukose te verminder, wat kan help met gewigsverlies, die beheer van bloedsuiker en ander gesondheidsvoordele. Ons verlaag en vervang dus die Negatiewe Koolhidrate (soos koring, aartappels, mielies, wortels, brood, pasta en suiker) en vervang dit met Positiewe Koolhidrate (vleis, vis, eiers, lae koolhidraat groente en slaaigroente, neute en sade). 

‘n Glutenvrye Dieet, daarteenoor, is ‘n dieet wat gluten uitsluit. Gluten is ‘n proteien wat gevind word in koring, gars, rog en sommige ander graanprodukte. Hierdie dieet word hoofsaaklik gevolg deur mense met siektes soos Siliakie (Cealiac Disease – ‘n toestand waarin die inname van gluten lei tot skade in die dunderm), glutensensiwiteit of koringallergieë. Voorbeelde van glutenvre graanprodukte is: Rys, guinoa, gierst, mielies, sorghum, bokwiet, amarant, teff, hawermout en wilde rys. Meel wat gemaak word van hierdie kosse (asook dié gemaak van aartappels of ertjies) is soms vreeslik hoog in koolhidrate en daarom nié toelaatbaar op ‘n LowCarb Dieet nie.

MAAR, hier is die goeie nuus vir almal wat aan Siliakie, glutensensitiwiteit of koringallergieë ly: 
Alles wat op ‘n LowCarb Dieet toegelaat word, is ook glutenvry! 
Wat dit beteken is, as jy by ‘n suiwer LowCarb Dieet bly, is jou dieet outomaties ook glutenvry. 
Dus onthou altyd: 'n LowCarb Dieet is Glutenvry, al is 'n Glutenvrye Dieet nie (noodwendig) LowCarb nie.

Share on
Click here to contact us on WhatsApp