Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

🐣 PAASFEES vir LOWCARBERS - Spesiale LowCarb Geleenthede

🐣  PAASFEES vir LOWCARBERS - Spesiale LowCarb Geleenthede picture

PAASFEES vir LOWCARBERS
Oorsprong van Kos-Tradisies en LowCarb Opsies
(c) Leanda C Retief

Paasfees is een van die gewildste feestye op die Christelike kalender, en om watter rede jy dit ookal vier—een ding is verseker, deur die jare het daar vele kos-tradisies rondom Paasfees ontstaan. In hierdie uitgawe het ek goed gedink om ‘n paar van hierdie tradisies van nader te beskou—en hoe om dit geskik vir LowCarbers te maak.

EIERS
Paaseiers is seker die gewildste tradisie rondom Paasfees, maar dit is nie net sjokolade paaseiers wat relevant is nie. Regoor die wêreld word eiers in alle vorms, kleure en geure rondom Paasfees voorgesit. Die rede? Eiers is simbolies van hergeboorte, opstanding en nuwe lewe—net Jesus uit die graf opgestaan het, simboliseer die eier nuwe lewe wat uit die eierdop voortspruit. LowCarbers mag wel nie Beacon marshmallow eggs eet nie, maar daar is baie wat ons met eiers kan doen (vir die doel van simboliek) – soos devilled eggs, soutterte en selfs tuisgemaakte suikervrye sjokolade paaseiers.

PAASBOLLETJIES
Paasbolletjies is Paasfees-tradisie regoor die wêreld. Paasbolletjies is simbolies van Jesus se kruisiging. Elke rolletjie word versier met ‘n kruis, wat die kruis verteenwoordig waarop Jesus gesterf het. Die speserye wat in die bolletjies gebruik word, verteenwoordig die middels waarmee Jesus gebalsem is na Sy dood. Paasbolletjies soos ons dit vandag ken, is vir die eerste keer in 12vC deur ‘n Engelse priester gebak op Goeie Vrydag (ook bekend as “the day of the Cross” en na dit het die gebruik in gewildheid toegeneem. Die legende gaan ook dat daar mettertyd vrugte en speserye bygevoeg is om gesondheid en voortvarendheid te verteenwoordig. Nou hier is iets wat jy dalk nie geweet het nie—daar word vertel dat paasbolletjies wat op Goeie Vrydag gebak word, nooit vergaan of sleg word nie. In Sussex, Engeland, is ‘n paasbolletjie wat uit 1807 dateer en van generasie tot generasie oorgedra is. En, in die Widow’s Son Pub in Bromley-by-Bow, in Londen, is paasbolletjies wat uit die mid-1800s dateer. Die storie gaan dat die weduwee aan wie die kroeg behoort, nooit wou glo dat haar seun in Napoleon se oorlog dood is nie, en sy het elke Goeie Vrydag Paasbolletjies gebak sodat hy dit kon eet as hy terugkom. Nog steeds, elke jaar, gaan ‘n matroos van die Royal Navy na die kroeg om nog ‘n paasbolletjie wat op Goeie Vrydag gebak is, by die versameling te voeg.

HAM
Dalk nie so ‘n bekende Paasfees-tradisie hier in Suid-Afrika nie (dis eintlik meer ‘n Kersfees-tradisie by ons), maar in ander dele van die wêreld is ham baie gewild tydens Paasfees. Hierdie tradisie dateer terug na die 6de eeu na Christus in Noord-Europa. Varke was in daardie tyd in oorvloed in daardie gebiede, so die mense het die varke in die herfs geslag en gedurende die winter gekuur. Omdat Paasfees in Noord-Europa in die lente val, was dit tradisie om die laaste van die “winter ham” tydens Paasfees te eet – en so het die tradisie ontstaan om ham tydens Paasfees te eet.


SKAAPBOUD
Die tradisie om geroosterde skaapboud (of ander skaap/ lamsvleis) te eet op Paas-Sondag gaan baie ver terug in die geskiedenis—na die eerste “Passover” van die Hebreeuers. ‘n Lam is geslag en geëet in die hoop dat die Engel Van God oor hulle huise sou “pass” - dus “Passover”. Daar word ook dikwels na Jesus as die “Lam van God” verwys—en dit is hoekom mense skaap– of lamsvleis oor Paasnaweek eet.

KERRIEVIS
‘n Groot Gunsteling vir Paasfees is kerrievis. Dit word gewoonlik op Goeie Vrydag geëet. Kerrievis is tradisioneel ‘n Kaaps-Maleise gereg en dit kom van die konsep dat mense nie op Goeie Vrydag mag werk nie (dus ook kosmaak), omdat dit ‘n Godsdienstige dag is. Paasgeregte moes dus voor die tyd berei word, en soos ons almal weet, raak kerrievis net lekkerder as dit vir ‘n paar dae staan. Die vis is ook simbolies, omdat dit verbind word met Jesus as die “Visser van Mense”. LowCarb Kerrievis is heerlik, al word dit nie in beslag of meel gebak nie, en die sous kry versoeter in plaas van suiker in.

Share on
Click here to contact us on WhatsApp