Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

❤️ VALENTYNSDAG - Spesiale LowCarb Geleenthede

❤️ VALENTYNSDAG - Spesiale LowCarb Geleenthede picture

Valentynsdag word internasionaal gesien as DIE DAG VAN LIEFDE. Maar het jy al ooit gewonder waar Valentynsdag vandaan kom en waarom daar gevoel was dat daar ‘n dag van liefde opsygesit moes word?

Die kort weergawe is dat hierdie dag as ‘n godsdienstige vakansiedag begin het. Min mense sal dit weet, maar die Rooms-Katolieke kerk het drie verskillende Sint Valentines onder hulle heiliges – en al drie het letterlik gesterf vir liefde!

Die gewildste Sint Valentine – en heel moontlik die een wat ook Valentynsdag se oorsprong tot gevolg gehad het – was ‘n Romeinse priester in die 3de eeu na Christus. Hy het onder Keiser Claudius gedien en hierdie keiser het geglo dat enkellopende mans beter soldate maak as dié wat getroud is met families – en toe vaardig hy ‘n wet uit wat dit onwettig maak vir alle jong mans om te trou! Nou as daar een ding is wat die geskiedenis ons leer, is dat as die liefde sterk is, keer niks dit nie! Valentine was totaal oorbluf deur hierdie nuwe wet en hy het voortgegaan om verliefde paartjies in die geheim te trou.  Hy is natuurlik uitgevang en Claudius was woedend – en Valentine is onmiddellik tereggestel. Valentine is later tot heilige verklaar deur die Rooms-Katolieke kerk en in die 5de eeu na Christus is 14 Februarie amptelik opsygesit as sy feesdag. En dit is waarom ons op 14 Februarie Valentynsdag vier – omdat ‘n priester besluit het om op te staan vir die liefde en besluit het liefde oorwin alles. (Op ‘n meer praktiese vlak, 14 Februarie is die begin van paartyd vir die voëls in Engeland en Frankryk, en dalk het die dag glad nie so ‘n romantiese oorsprong gehad nie…)

Hoe dit ookal sy, 14 Februarie gaan net oor liefde. En of jy glo dat dit ‘n romantiese idee is wat gevier moet word, en of jy voel dit is ‘n oorgekommersialiseerde dag – ek dink dit is ‘n pragtige idee. Want in ons gejaagde lewe vergeet ons soms om vir ons geliefdes (familie en vriende) te sê of te wys dat ons lief is vir hulle – en watter beter manier om daaraan herrinner te word as om in ‘n magdom hartjies in die winkels vas te kyk.

Share on
Click here to contact us on WhatsApp